die eerste ding wat mila sien toe sy by die huis in Mosselstraat instap, is ’n geraamde skildery van haar en Queenie wat in die gang hang. Tannie Karin kom staan agter Mila en sê: “Ek moet darem iets van jou en Queenie in die huis oorhou as julle weer weggaan. Dit is hoe ek julle wil onthou.”

“Dis vrééslik mooi! Tannie weet seker darem ek sal baie kom kuier as ek weer by my ma bly,” sê Mila.

“Nogtans sal jy nie meer hier bly nie! Vertel nou van die vakansie. Ek hoor van ’n oulike liefde?” sê Karen dan.

“Tannie Karen, Tannie weet nie hóé cute is hy nie! Regtig beautiful! Julle sal hom een van die dae sien!” juig Mila, skoon in ekstase oor Arno.

“Sy het ook Kobus se siekte,” verklaar Jaco en as hulle nie verstaan nie, roep hy uit: “Verliefsiekte!”

“Dit kan jy weer sê,” beaam Helena en almal lag.

Al drie kinders praat deurmekaar oor die drie weke se gebeure. Hulle vertel hoe vreeslik gaaf Nelmari was, hoe mooi die see en die strand is en hoe gaaf die mense van Sukkelvisbaai. Dan praat hulle hartseer oor die groot tragedie … Kobus erken hy is nog nie oor die skok dat dit alles voor hom gebeur het nie. “Die een oomblik was die laggende Blom nog daar en toe is sy weg, om haar drie dae later as ’n lyfie op die strand te sien,” sê hy en dit lyk of hy weer wil huil. As Mila vertel van die tekening, huil tannie Karen onbeskaamd saam met hulle.

’n Bietjie later kom oom Ben van die werk af en is baie bly om hulle te sien. Hy laat ook nie die kans verbyglip om hulle te terg nie: “Weet julle hoe rustig was dit sonder drie raasbekke in die huis? Dit was net Jaco wat soos ’n sonbesie aanmekaar oor een ding kon kla!” sê hy en vryf Jaco se hare laggend deurmekaar.

Maandagmiddag daag Cynthia daar op. “Besige tye, besige tye! Die tyd was te min vir koek bak, toe bring ek souskluitjies vir aandete,” sê sy en oorhandig ’n groot Tupperware-bak. “Onthou tog net dat ek die bak terugvat, anders het ek dalk trouble,” waarsku sy op haar luide manier.

“Hoekom is jy dan so besig, Cynthia?” vra tannie Karen nuuskierig.

“Nee, meneer Putchelli word fifty. Die huis word ge-polish en ge-paint. Wie gaan nou met sy Martini-glasie onder die wasbak inkyk of dit daar geverf is? It’s a strange world we live in,” sê Cynthia en sug oordrewe dramaties.

“Van vreemd gepraat, Cynthia. Dis vreemd dat jy juis vandag hier aangekom het, want ek was so haastig om vir jou ’n present te gee en het gewonder wanneer ons jou weer sal sien, en hier is jy nou vandag!” sê tannie Karen en glimlag geheimsinnig.

“Het jý vir mý ’n persent, Secret Coz?!” vra Cynthia nuuskierig.

Tannie Karen verdwyn na haar kamer en kom terug met ’n pakkie in bruin papier toegedraai. “Maak oop,” sê sy vir Cynthia.

Toe sy die pakkie oopmaak, val Cynthia amper flou neer. Binne-in is ’n skilderytjie van Mila, klaar geraam. “Secret Coz, dit kan nie vir my wees nie! Dis dan so mooi en geraam en alles. Dit is die beste persent ooit!” sê sy, absoluut verheug!

“Dit het jy van jou Jamie-kookboek ook gesê, Cynthia,” terg Mila.

“Jammer, Mila, this one beats everything!” Cynthia slaan skoon oor na Engels, so beïndruk is sy met haar skildery. “Secret Coz, hoekom gee jy nou vir my so special persent?” vra sy reguit, met ’n gesig wat van verwondering spreek.