“Omdat ek kan sien Mila is die ‘mooi’ kind wat sy vandag is omdat jy haar so mooi grootgemaak het. Jy verdien dit!” sê tannie Karen. Mila voel skoon tranerig toe tannie Karen dit sê en Cynthia huil nou met oorgawe.

“Hoekom jy so ’n groot secret was, weet g’n siel, want jy is nou wat hulle sê, ekstra special!” sê Cynthia tussen die snikke en snuiwe deur.

Na Cynthia later al die inligting oor die nuwe “boyfriend” uit Mila en Helena het en ook baie tevrede moes aanhoor dat die “engel” nou by Helena aanlê, is sy daar weg, skildery onder die arm en met ’n baie besliste: “See you soon! Dinge hier raak net te interessant!” Sy laat die meisies almal laggend en kopskuddend agter. Soos hulle later vir Kobus vertel: “Cynthia is op ’n drugless high! So gelukkig met die lewe soos kan kom!”

Dié aand kry hulle weer onverwagte besoekers. Hierdie keer is dit Mila se ma, Diederich en Paul. Mila is baie bly om haar ma na so ’n lang tyd weer te sien en Helena glimlag aanmekaar van vreugde oor Paul. Dié lyk ook heel in sy skik. Die twee verliefdes kondig ook dadelik aan dat hulle ’n ent gaan stap en verdwyn by die voordeur uit.

Oom Ben wens oom Diederich geluk met die koop van die nuwe huis. “Wanneer trek jy in?” vra hy dan.

“Einde Augustus. Ek is nogal haastig, daar is baie wat ek aan die huis wil doen. Die tuin is mooi, dit kort net aandag,” vertel Diederich opgewonde en brei uit oor die bome en struike in die tuin.

Karen staan op. “Ek gaan tee maak. Drink almal tee?” vra sy.

“Ek en Mila sal gaan maak, as dit reg is met jou, Karen?” sê-vra Leoni. Karen sê dadelik dat sy geen probleem daarmee het nie. Sy besef seker hulle wil privaat praat, dink Mila.

In die kombuis vra Leoni eers uit oor die vakansie en Arno. Dan vra sy versigtig: “Mila, sal jy baie kwaad wees as ek weer trou?”

Mila weet nie of sy reg gehoor het nie. “Weer trou?” vra sy ongelowig.

“Ek weet dit is baie gou na jou pa se dood, maar oom Diederich het my gevra om te trou en ons het ’n wonderlike vriendskap …” Sy huiwer ’n oomblik en dan sê sy: “My en jou pa se verhouding was in die laaste jare nie meer wat dit kon gewees het nie. Ek is jammer om dit vir jou te sê, maar ek dink jy weet dit is so. Ek en Diederich het meer met mekaar in vier maande gepraat as ek en jou pa in agtien jaar. Ek was baie lief vir jou pa en hy was ’n goeie man, maar ons het mekaar iewers langs die pad verloor. ’n Groot deel daarvan was my skuld, dit weet ek ook!” sê haar ma.

Mila luister met aandag na haar ma. Alles wat sy sê, maak vir haar sin. Mila weet haar ouers se verhouding was nie wonderlik nie, al het sy toe nie gedink dit is so sleg nie. Nou weet sy van beter. Sy sien nou by die De Wets hoe ’n goeie huwelik lyk en haar oë het oopgegaan.

“As dit Mamma gelukkig sal maak en Mamma voel dit is reg, trou met oom Diederich. Ek dink hy is cool en ek is mal oor Paul,” sê Mila. “Wanneer wil julle trou, Mamma?”