“Ons het gedink aan die einde van September. Hy wil net eers die huis verf en regkry. Dan kan jy hierdie kwartaal nog hier by tannie Karen-hulle bly sodat jy nie van skool hoef te verander nie. As die nuwe kwartaal begin, kom bly jy by ons in die huis en kan jy in dieselfde skool bly. Dis lekker naby die nuwe huis,” verduidelik sy. Dis vreemd, dink Mila, maar dit is nie vir haar so ’n groot kwessie dat haar ma weer gaan trou nie. Wat help dit haar ma is alleen en ongelukkig? Dit gaan nie haar pa weer laat lewe nie!

“Wanneer kom Paul dan na dié skool?” vra Mila.

“Hy gaan oormôre al na julle skool toe oorkom. Sy pa trek einde Augustus, en hy of ek sal Paul maar vir eers elke dag skool toe bring. Dit kan nie anders nie,” antwoord Leoni.

Mila dink ’n rukkie terwyl sy alles probeer inneem.

“So, Mamma sê ek gaan uiteindelik ook ’n broer hê? Wow!” sê Mila en skud haar kop nog steeds in ongeloof oor al die inligting. “Wat gaan Cynthia hiervan sê?” wonder sy hardop.

“O nee, dit sal ’n storie wees om haar opinie te hoor!” sê Leoni en lag. “Ek neem mos nou kooklesse ook! Miskien moet ons haar eendag nooi, dan kook ek. Sy sal flou val van skok!”

“My kop draai nou! Kom ons vat die tee in, dan vertel Mamma vir tannie Karen,” sê Mila.

Hulle vertel vir die hele geselskap en almal is verras en bly.

“Kan ek jou trourok maak?” vra tannie Karen opgewonde vir Mila se ma.

“As jy wil, sal dit wonderlik wees! Ek was nog so bekommerd oor wat Mila gaan sê, ek het nog nie oor trourok en reëlings gedink nie!” sê Leoni.

“Jy sal jou wat verbeel om my broer te word!” sê Mila vir Paul toe hy by die deur inkom. Dit is duidelik dat hy Helena intussen oor die trouery ingelig het. Sy is glad nie verbaas oor Mila se uitlating nie.

“Daar is meisies wat sal betaal om my as broer te kry!” spot Paul.

Almal kyk tegelyk na Helena. “Ek is dankbaar hy is nie my broer nie, dankie,” sê sy en bloos.

“Ja, want dan kan jy hom nie so soen soos jy netnou gedoen het nie, ek het julle gesien!” sê Jaco. Nou is Paul ook rooi en almal lag ten koste van die twee.

Toe haar ma-hulle weg is, bel Mila dadelik vir Arno.

“Haai, dis so nice om jou stem te hoor,” sê hy en klink bly.

“Dis lekker om met jou ook te praat. Ek móét net my nuus met jou deel! My ma gaan weer trou!” vertel Mila.

“Is dit oukei met jou?” vra Arno en klink bekommerd.

“Ja, weet jy, dit is. Ek is nie een van die kinders wat hulle ouers dit misgun om nuut te begin nie. Daar is mos nie logika aan nie?” sê-vra Mila.