“Dis ’n groot woord vir jou so laat in die aand,” spot Arno.

“Ag, Arno! In elk geval, ek gaan nou hier in die skool bly. Van die einde van September af bly ek, my ma, my stiefpa en stiefbroer hier om die draai in ons eie huis. Cool!” vertel Mila.

“O ja, jy gaan nou ’n broer ook kry!” sê Arno.

“Ja, amper iets soos ’n tweelingbroer. Ons is amper ewe oud!” sê Mila.

“Mis jy my?” vra Arno dan.

“Ja, regtig baie! Wanneer kom jy kuier?” vra sy verlangend.

“Ek sal kyk of ek die naweek kan, maar ek sal jou bel,” antwoord Arno.

“Ek hoor dan van jou. Lekker slaap,” sê Mila.

“Jy ook!” antwoord Arno.

Gou val alles weer in die gewone roetine van voor die vakansie. Dit is vir Mila lekker om Nane en Bessie weer te sien en hulle gesels ure lank oor wat die vakansie met almal gebeur het. Nane vertel net hoe baie sy vir Kobus gemis het en Mila sê dadelik sy dink dit was vir Kobus ook sleg sonder haar.

“Dis nou wanneer hy my en Helena nie geterg of getart het nie! Dit geniet hy mos die meeste!” sê Mila en skud haar kop.

Marius kyk nog met verlangende oë na Helena, maar soos Kobus dramaties sê: “Helena se skip het geseil! Haar hawe se naam is nou Paul!”

Naweke kom Arno kuier en word gou deur die De Wets met dieselfde liefde en vriendelikheid ontvang as Mila.

Tannie Karen sê in haar dae sou hulle gesê het: “Arno is so handsome, hy maak jou hart chocolates klop!” Die kinders sê dit klink nou allesbehalwe cool, maar elke geslag se tieners het seker hulle eie sêgoed!

Mila kry ’n paar keer kans om in die middag haar gevoelens oor die troue met tannie Karen uit te praat. Sy luister altyd as ’n mens oor diep dinge met haar praat, dink Mila. Tannie Karen gee goeie raad sonder om jou te laat voel sy druk haar siening van dinge op jou af, dink Mila.

Tannie Karen en Mila se ma gaan koop een oggend die materiaal vir die trourok en kom ook met donkerpers chiffon vir Mila terug.

“My kleure is room en pers en hierdie materiaal is net reg vir jou. Ek hoop jy hou daarvan?” sê-vra haar ma.

“Dit lyk koninklik!” antwoord Mila en glimlag tevrede.

Die laaste keer wat Mila se ma die rok kom aanpas, sê tannie Karen: “Leoni, ek wil nou julle trougeskenk gee. Dis iets vir die nuwe huis.” Daarmee oorhandig sy ’n groot plat pakkie aan Mila se ma.

Binne-in is daar vir hulle ook ’n skildery van Mila. Dit is die mooiste een van die drie, dink Mila.