Leoni bars in trane uit en val Karen om die nek. Mila huil ook, sy weet nie regtig hoekom nie. Miskien omdat haar ma so geraak is deur die geskenk. “Wat moet ek sê, Karen? Dis asof jy simbolies vir my aandui dat my kind aan my terugbesorg word, mooier as ooit en ook as ’n kunswerk. Sal ek ooit genoeg kan dankie sê vir Mila en vir hierdie skildery?” sê Leoni skoon uitasem.

“Ek is bly jy dink dis mooi. Geniet die geskenk én vir Mila, sy is besonders,” sê tannie Karen. Sy vat aan Mila se skouer en glimlag liefdevol.

Daardie aand toe Helena al vas slaap, lê Mila nog wakker en wonder hoe dit moontlik kan wees dat een mens so baie soos haar ma kon verander. Haar ma is ’n ander mens. Sy kla nie meer nie en sy dink nie meer net aan haarself nie. Dit is alles deur Jesus verander, dink Mila. Paulus sê mos in 2 Korintiërs 5:17: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens …” Hier sien sy dit nou in haar eie gesin, dink Mila en prewel saggies ’n dankgebed.

Op ’n aand nadat hy ingetrek het, nooi oom Diederich hulle almal, ook vir Arno, om te kom kyk en sommer by die nuwe huis te braai. Die huis is klaar geverf en alles is reggemaak. Mila kon die verf vir haar kamer kies en het op ’n ligte oranje besluit. Paul se kamer is blou. Alles lyk baie mooi. Haar en Paul se kamers het skuifdeure wat oopmaak na die tuin. Daar is ’n bankie en ’n voëlbak, wat Mila aan die binnetuin van die woonstelgebou herinner. Sy kan sommer al sien hoe sy en Paul daar in die tuin sit en kuier en geheime deel. Queenie sal dalk net so baie daarvan hou, maar dit sal meer om die voëlbak gaan! dink Mila.

Hulle kon ook al nuwe gordyne en duvetstelle gaan uitsoek het en dit is reeds in die kamers. Mila se gordyne en duvet is wit, oranje en rooi, wat pragtig by die oranje mure lyk. Paul se kamer is in ’n paar skakerings van blou, ’n regte seunskamer. Mila dink by haarself dat sy tog vir haar ma moet vra om al die ou goed wat nog mooi is, saam met ’n klomp klere in ’n boks te pak en vir Mooi Mara te stuur. Mila se besittings wat nog by die woonstel was, het ook saam met Paul-hulle se trek gekom.

Haar persoonlike goed staan nog eenkant in haar kamer. Sy kan dit later kom uitpak, sê oom Diederich vriendelik en vryf haar hare liefdevol deurmekaar. “Een van die dae het ek ook mos ’n dogter, dit is ’n nuwe ervaring!” sê hy grootoog na oom Ben se kant toe.

“Op die oomblik het ek twee en dit is nou vir jou ’n ding!” spot oom Ben terug.

“Diederich en Leoni is nog jonk genoeg om nog ’n dogter of twee te kry! Dalk maak ek nog ’n dooprok ook!” merk tannie Karen op en haar oë blink stout.

Sowaar! besef Mila. Sy het nie daaraan gedink nie. Dalk kry sy en Paul nog ’n babasussie of -boetie. Dit sal nogal cute wees!