Die dag van die troue is ’n windlose sonskyndag in die Kaap. Mila sit met haar donkerpers chiffonrok langs Arno in die voorste ry in die kerk. Aan haar voete het sy silwer Dolce & Gabbana-sandale, wat vir haar voel of dit uit ’n ander leeftyd dateer. Arno speel met haar vingers en fluister saggies: “Jy lyk beautiful!” Dan hou hy sy mond nader aan haar oor en sê: “Ek dink ek is lief vir jou.” Mila se hart mis ’n slag.

Met blosende wange fluister sy terug: “Ek dink ek is ook!” Sy voel vreeslik gelukkig. Dit voel of elke dingetjie in haar lewe uiteindelik op sy presiese plek beland het.

As haar ma-hulle netnou die ringe gaan aansteek, moet sy haar blomme gaan vashou. Met die inkomslag het sy baie bekendes raakgesien. Oom Lourie, haar pa se vriend, en sy vrou, Lana, dr. Jan-Karel en sy vrou, Elize, tannie Hanneke, Cynthia, Sara, Rika en haar nuwe liefde, Derick, Nelmari, oom Ben, tannie Karen, Helena, Kobus, Nane, Bessie en Jaco. Selfs oom Herman, wat hulle maar een keer ontmoet het, het haar ma-hulle se dag kom deel.

Haar ma lyk vandag skaars ouer as syself, dink Mila vol bewondering. Tannie Karen het vir haar die mooiste rok gemaak. Dit is ’n sagte roomkleurige satyn, ’n bietjie kant en baie pêreltjies. Elke stekie en plooitjie presies reg. Rika het haar hare so mooi gekleur en geblaas, dit skitter! Sy lyk stunning! sê Mila vir haarself. Dit is egter die lig in haar ma se oë wat haar jonk en gelukkig laat lyk. Die huwelik wat hier voor almal se oë plaasvind, is ’n verbintenis wat deur die Here geseën is, dink Mila.

Mila voel of iemand haar die laaste jaar op ’n reis geneem het om haar te wys wat regtig saak maak. Aan die begin van die jaar was partytjies boaan haar lys. Sy sou nie dood gesien wou wees in klere wat nie ontwerpersklere was nie. As iemand toe sou gesê het sy sal ’n tuisgemaakte rok na enige plek dra, het sy haar doodgelag! Sy het haar kredietkaart deur masjiene laat gly en geld was geen probleem nie. Toe gaan haar pa dood en sy begin mense anders sien. As jy nie geld het nie, sien party mense jou nie meer raak nie. Droewig maar waar, dink Mila. Dit is vir hulle net cool om jou te ken as jy deftige klere dra en duur partytjies kan hou.

Sy het ook geleer dat daar great vriende soos Paul is wat nie ’n Dolce & Gabbana-hemp besit nie, maar hy worry of sy vir Jesus ken. Sy het besef haar pa was en haar ma is special en sy het vrede gemaak met hulle foute. Sy het by tannie Karen-hulle die magic van ’n gesinslewe ontdek. Sy het iemand met ’n goeie hart soos Nelmari Verster leer ken. Dan, einde ten laaste, het sy gesien dat al het jy niks en al word jou kosbaarste van jou weggeneem, kan jy die Here nog loof vir sy goedheid. Dit het die eenvoudige mense van Sukkelvisbaai haar geleer. Dit is die wonder om die Here Jesus as Verlosser, Vriend en Beskermer te hê! dink Mila.

Nou sit sy in die kerk langs hierdie spesiale ou wat haar hart so vinnig laat klop. Sy word skoon duiselig en sy weet die Here het ’n amazing plan met hulle gehad! Ook Leoni, haar ma, wat baie verward en depressief was, het Hy ingesluit in die plan. Hulle pad het gekruis met oom Diederich en Paul s’n, wat al lank alleen is. Ook vir Paul, wat net met die reuk van groen spookasem kan onthou hoe dit was om ’n ma te hê, het Hy nog ’n kans gegee om ’n ma te hê. Hulle vier het die Here bymekaargebring en saamgebind in ’n nuwe gesin. Mila maak haar oë toe en sê dankie daarvoor!

Sy staan op toe dit tyd is en neem haar ma se blomme. Paul, wat langs Arno sit, glimlag vir haar. Van vandag af is hy haar nuwe stiefbroer, dink Mila en kry ’n warm gevoel in haar binneste. Een van oom Diederich se vriende speel sag op sy viool: “Someone to watch over me …” Mila sien hoe oom Diederich vir haar ma kyk as hy die goue trouring oor haar ringvinger laat gly. Sy herken dié kyk. Dit is hoe oom Ben en tannie Karen vandag na baie jare nog na mekaar kyk. Sy weet dit is wat sy ook graag wil hê as sy eendag trou, iemand wat so na haar kyk! Onwillekeurig soek haar oë na Arno en glimlag vir hom waar hy, vanuit die kerkbank, haar vol bewondering dophou. Sy mooi oë sê alles wat woorde nie kan sê nie. Dan wonder Mila of sy regtig so hard na daardie spesiale kyk sal hoef te soek …